Ledevergaderings
Die maandelikse lede-aand word gewoonlik gehou op die derde Woensdagaand van elke maand. Die gereelde venue vir ons lede-aande is Rafters Pub & Grill uit op Garsfontein Weg, of die lapa by Rietvlei natuurreservaat.
Tydens hierdie geleentheid word lede en hul gesinne die kans gegun om in ’n ontspanne luim met medejagters kontak te maak. Die aand begin met ‘n verwelkoming deur die voorsitter, sowel as ‘n paar afkondigings waartydens daar ook terugvoer gegee word oor die tak se afgelope en beplande aktiwiteite. Dan is daar ’n kort aanbieding deur kundiges oor onderwerpe wat vir ons lede interessant is. Onderwerpe wat in die verlede groot aftrek gekry het sluit in: Gehoor- en oogbeskerming, Bewaringsaksies, Jakkalsjag, Oorlewing in die bos, Trofeemeet, “The Diana Files” (vroulike jagters deur die geskiedenis) aangebied deur outeur Fiona Capstick, Taksidermie, Voorbereiding vir die jag, Boskos en vele meer. Hou die kalender dop vir inligting oor wat beplan word vir hierdie jaar.
Na die praatjie kan diegene wat wil saam kuier en ietsie van die braai en kroeg af geniet.
In die somermaande, hou ons die lede-aand in die opelug by Rietvleidam se lapa. Hierdie aande is vir ons ekstra spesiaal en dan word daar gewoonlik jagstories vertel terwyl die kampvure brand en die jakkalse van die reservaat in die verte van hulle laat hoor. Dis ’n gewilde plek vir gesinne (kinders is ook welkom). Lede bring hul eie piekniekmandjie met eetgerei, eet- en drinkgoed (ons verskaf die braaivure).
Dan moet die Maartmaand-ledeaand ook uitgesonder word as ‘n hoogtepunt van die jaar. Dis wanneer ons 'n veiling hou. Alle opbrengste van die veiling is ten bate van ons bewaringsfonds.
Kom stel jouself voor en word deel van ons familie!
Aanwysings na Rafters Pub & Grill en Rietvlei Lapa